So paar jaar gelede het ek saam met goeie vriende Mosambiek toe gegaan vir ‘n langnaweek, en iets wat ek nooit sal vergeet nie, is as jy baie vroeg opstaan en jy gaan na die Portuguese kafee, nie ver daarvan nie, dan kry jy daar die varsste, lekkerste brood wat hulle noem “Paõ”.
As jy al van ver af aangestap kom, ruik jy daardie vars, vars brood wat sopas gebak is, en dan smag jy na hierdie lekkerste, lekkerste vars brood. Die laatslapers het nooit die voorreg gekry om hierdie vars, vars “Paõ’s” uit die oond te eet nie en het baie uitgemis. Ruik jy die vars brood? Ahhh, netso het Abba Vader vir my en jou elke dag vars brood uit Sy troonkamer.
Is jy ook so honger na Pappa God se vars brood? Die Woord van Abba Vader is die brood van die Hemel. Yeshua sê in Sy gebed wat Hy die dissipels leer in Mat 6:11: "Gee ons vandag ons daaglikse brood."
Regdeur die Nuwe Testament praat Yeshua nie net van die brood vir voeding vir die maag nie, maar ook van die geestelike brood wat voeding is vir die siel. Met ander woorde: "Gee ons vandag 'n daaglikse Woord, Abba Vader, dit waarna ons so honger is."
Abba Vader leer my dat daar twee instansies is waar Yeshua ‘n groot massa "voedsel" vir die mense gegee het, vir voeding vir die maag, maar ook Homself gegee het as die Brood van die Lewe.
Die eerste voeding is dié van 5000 mans, wat in baie detail in al vier evangelies bespreek word. Daar is baie inligting wat gegee word oor hierdie verhaal, en in Johannes 6:1 sê dit: "Daarna het Yeshua na die oorkant van die see van Galiléa, dit is van Tibérias, gegaan." Met ander woorde aan die noordwestekant van die see van Galilea.
Let wel, die inligting word gegee oor presies wáár. Ons ken die verhaal… Yeshua laat almal sit en sê vir Filippus in Joh 6:5: "Waarvandaan sal ons brood koop sodat hierdie mense kan eet?" Filippus sê in Joh 6:7: "Brood vir twee honderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle ‘n stukkie kan kry nie."
Dan kom Andreas en sê: "Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense?"
Yeshua antwoord en sê: "Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal, en Yeshua het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels, en die dissipels aan dié wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê."
Maar hoor gou wat staan in Joh 6:12: "En nadat hulle versadig was, sê Hy vir sy dissipels: Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie." Is hier iets weggesteek? Kom ons ondersoek. Daar is niks in Abba Vader se Woord wat sommer net daar is nie.
Yeshua sê na die wonderwerk iets baie belangrik: "Maak die brokstukke bymekaar wat oorgeskiet het, sodat niks verlore gaan nie." Hoekom is dit belangrik, en hoekom noem Johannes dit pertinent in Abba Vader se Woord? Dalk nog ‘n vraag: Yeshua is die Alfa en Omega en Hy weet alles, hoekom het daar presies 12 mandjies brood oorgebly… hoekom meer as nodig?
Wat ons moet weet, wat nie hier baie duidelik is nie, is dat in Yeshua se tyd, aan die noordwestekant van Galilea, die area 'n baie hoë godsdienstige area was. Daar was oor die 200 Rabbi’s (hooggeleerdes en leraars) wat hulle huise almal hier aan die noordwestekant van die see van Galilea gehad het.
Onder andere Yeshua, wat ook ‘n Rabbi was in Kapernaum. Al hierdie geleerdes, almal in een omgewing. Abba Vader se Woord sê in Joh 6:13: "Hulle maak toe bymekaar en het twaalf mandjies gevul met brokstukke van die vyf garsbrode wat oorgeskiet het by die wat geëet het." 12 mandjies met oorskiet.
Hierdie area, noordwest van die see van Galilea in Yeshua se tyd, was genoem: "The land of the twelve." Dit verteenwoordig die 12 stamme van Israel! Sonder dat Yeshua iets gesê het, sê Hy met hierdie oorskiet van 12 mandjies: "Ek is die brood van die lewe vir die 12 stamme van Israel!" Wow!
Dan in Markus 7 is die tweede massa voeding, waar daar brood gegee is vir die 4000 mense, en soos ons hierbo gesien het, is daar iets betekenisvol. Dis dieselfde geval hier by die 4000 mense wat brood kry.
Abba Vader se Woord sê in Mar 7:31: "En Hy het weer uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galiléa gegaan, deur die gebied van Dekápolis."
Met ander woorde, in die gebied van Dekápolis? Wat beteken dit, en hoekom noem Markus pertinent die gebied? Hoekom die inligting, en hoekom het Yeshua soontoe gegaan? Dekápolis in Grieks beteken 10 stede: "A track of land so called from the ten cities."
Dis die 10 stede aan die oostekant van die Jordaanrivier, ook bekend as die heidense land. Dis die land van die "gentiles" (heidene), en net twee keer in Abba Vader se Woord word daar gepraat van Yeshua wat ingaan in hierdie heidense gebied, en hier bevind Yeshua Hom in die land van die heidene.
Dan sê Yeshua in Mark 8:2: "Ek voel innig jammer vir die skare, omdat hulle al drie dae by My bly en niks het om te eet nie. En as Ek hulle honger huis toe stuur, sal hulle op die pad beswyk, want sommige van hulle kom van ver." En sy dissipels antwoord Hom: "Waarvandaan sal ‘n mens hulle hier in die woestyn kan versadig met brood?" Toe vra Yeshua hulle: "Hoeveel brode het julle?" En hulle sê: "Sewe."
En Hy gee aan die skare bevel om op die grond te gaan sit; daarop neem Hy die sewe brode, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels om dit voor te sit; en hulle sit dit aan die skare voor. Hulle het ook ‘n paar vissies gehad; en nadat Hy gedank het, sê Hy dat hulle dit ook moet voorsit."
Dan sê Markus in Mar 8:8: "En hulle het geëet en versadig geword en die oorskot van die brokstukke opgetel, sewe mandjies vol."
Okay, maar ons weet Dekápolis beteken 10 stede, en hier is net 7 mandjies. Hoe nou? Ah… maar hoor gou: in Yeshua se dae was die landgebied genoem: "The Land of the seven."
Dit verteenwoordig die 7 nasies wat Joshua en sy manne uitgeskop het uit Kanaän, uit die beloofde land toe Abba Vader die beloofde land vir hulle gegee het wat Hy aan Abraham beloof het.
Dan lees ons in Deut 7:1: "As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie."
Let wel, 7 nasies, meer en magtiger. So wat is Yeshua, die Alfa en Omega, besig om te sê deur 7 mandjies met oorskot agter te laat? Yeshua sê: "Ek is die brood van die Hemel, die brood van die lewe vir elke heidennasie in die wêreld."
Yeshua sê in Joh 6:54: "Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag."
Dan sê Yeshua in Joh 14:6: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie."
Kom ons bid saam:
Abba Vader, Yahweh Jireh – God wat voorsien, ons loof en prys U.
Dankie dat U elke dag vir my en oor die 7 biljoen mense voorsien in die vlees. Vader, ek honger meer en meer na U vars, vars brood, U Woord – leer my U geheimenisse, die weg en die Waarheid. Abba Vader, dankie vir U Seun Yeshua wat die brood van die lewe is en wat die weg, die waarheid en die lewe is. Ek is so, so lief vir U, Pappa God.
Ek bid dit in Jesus (Yeshua Ha-Mashiach) se Naam, die Seun van Yahweh. Amen. Shalom.
0 comments