Abba Vader vul ons daagliks met voordele. Kan hierdie voordele verwys word as ons daaglikse brood… die Woord van Abba Vader? Besef ons dat Abba Vader ons elke dag wil vul met voordele? Ek glo Abba Vader doen dit deur Sy Woord. Met ander woorde, as jy die naweek laas Abba Vader se Woord gelees het, moet jou gees al so honger wees, want daar is 'n vars stukkie brood wat Abba Vader vir jou het daagliks… die Brood van die Hemel is daar om ons te handhaaf.
In die eerste versoeking van Jesus se 40 dae vas, kom die vyand na Hom toe en sê in Mat 4:3: "As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word." Jesus antwoord die vyand: "Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan."
Ek en jy oorkom ook hierdie versoekings van die vyand deur die bloed van die Lam (wat Jesus gedoen het) en deur die Woord van ons getuienis. Wat is die Woord van ons getuienis? Die Woord van jou getuienis is Abba Vader se Woord wat jy ken in jou hart en wat jou vrymaak. Jesus, of Sy Hebreeuse Naam Yeshua, antwoord die vyand duidelik: "Daar is geskrywe, die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van Abba Vader uitgaan."
Ons weet dat Jesus (Yeshua) hier Deut 8:3 aanhaal, wat sê: "En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan."
Net soos ons fisiese brood nodig het om te lewe, het ons geestelike brood nodig om geestelik te lewe. Met ander woorde, as jy geestelik sterk wil wees en die vyand se aanvalle wil weerstaan, moet ons elke dag geestelik van Abba Vader se vars brood uit Sy Woord eet.
Dit beteken nie ons moet oppervlakkige, “Cremora”-Christene wees nie. Onthou jy die Cremora-advertensie? Waar die ou sê: “Not inside but on top.” Ons moet nie so wees dat Abba Vader se Woord net in ons kop is nie, maar vas in ons hart. Jy kan nie deur hierdie lewe gaan sonder om die Woord van Abba Vader te eet nie. Jesaja 55:2 sê: "Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig."
Hoekom hierdie gejaag na wêreldse dinge wat ons nie geestelik voed nie? Job sê in Job 23:12 (KJV): "Neither have I gone back from the commandment of his lips; I have esteemed the words of his mouth more than my necessary food." Job het Abba Vader se Woorde meer geëer en bewaar as sy noodsaaklike kos vir sy liggaam.
Abba Vader sê vir Josua in Joshua 1:8: "Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel."
As ons Abba Vader se Woord bepeins en dit in praktyk bring, sal ons voorspoedig wees… Abba Vader se belofte vir my en jou! Die mees belangrike ding om daagliks te doen? Om Abba Vader se Woord te lees en dit in ons lewens toe te pas.
Abba Vader se Woord is ons ware Brood. Die Fariseërs kom na Jesus en sê in Joh 6:31: "Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet." Let wel, hulle sê brood, nie “die” Brood nie; hulle praat van natuurlike brood.
Jesus antwoord hulle: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood (‘die’ brood, noem Jesus) uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee."
Die Fariseërs sê toe: "Here, gee ons altyd hierdie brood." Jesus antwoord: "Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie."
Dan sê Jesus verder in Joh 6:48-51: "Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterf. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee."
Ons weet ook dat Jesus later by die Laaste Maal brood gevat het, dit gebreek het, en gesê het in Luk 22:19: "Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis."
Wat is Abba Vader besig om ons te leer? Orals in Sy Woord lees ons die Woord van Abba Vader elke dag, want die Woord van Abba Vader is brood. Dit is die asem van Abba Vader wat lewe gee en wat ons nodig het om geestelik te voed. Jesus is die Woord van Abba Vader.
Joh 1:1 sê: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God." Joh 1:14 sê: "En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid."
Met ander woorde, die Woord van Abba Vader is 'n persoon, en ons weet dit is Jesus (Yeshua, Sy Hebreeuse Naam). Ope 19:11-13 sê: "Toe het ek die hemel geopen gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is die Woord van God."
Wanneer jy Abba Vader se Woord lees, eet jy geestelik van Jesus. Jy neem Jesus in jou op, en Hy vul jou met Homself. Hoe word ek meer soos Jesus? Deur Hom binne-in jou te kry, want Jesus is die Woord van Abba Vader wat vlees geword het.
Jesus sê in Joh 5:39: "Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig." Jesus is die Brood wat vir ons die ewige lewe gee en Sy Woord getuig van HOM. Joh 6:63 sê: "Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe."
Die Woord van Abba Vader gee lewe. Mag ons honger kry om meer soos Jesus te wees en mag ons honger wees om tyd te spandeer in Sy Woord, oggend, middag en aand, wat lewe bring in elke situasie. Die Woord van Abba Vader is beter as goud en soeter as heuning. Mag ons so lief wees vir die Woord dat dit ons lewens verander!
The Word of Abba Father will keep me from sin; sin will keep me from the Word of Abba Father!
Kom ons maak vandag ‘n commitment om Abba Vader se Woord elke dag te lees!
Kom ons bid saam:
Abba Vader, Yahweh Elohim, ek loof en prys U. Dankie vir U Woord wat vars brood is elke dag uit U troonkamer. Vader, ek bid vir 'n honger elke dag vir meer van U Woord. Meer en meer wil ek wees soos U Seun Jesus (Yeshua) wat U Woord is. Leer my om U Woord te leer, te mediteer en te bestudeer elke dag, sodat ek, soos Job sê, U Woord belangriker sal ag as my daaglikse voedsel. Vader, ek bid dat elkeen wat hierdie hoor of lees 'n honger sal ontwikkel vir U Woord soos nog nooit tevore nie. Ek is so, so lief vir U. Ek bid dit in Jesus (Yeshua Ha-Mashiach) se Naam, die Seun van Yahweh. Amen. Shalom.
0 comments